Datsja

’n Tipiese Sowjetse datsja.

’n Datsja (Russies: дача; ) is ’n tweede, plattelandse huis in Rusland en ander voormalige Sowjetrepublieke.[1] ’n Kothuis (Russies: коттедж, kottedzj) of houthuisie wat ’n gesin se hoof- of enigste woning is of ’n buitegebou is tradisioneel nie as ’n datsja beskou nie,[1] hoewel sommige datsjas in onlangse jare in ’n permanente woning omskep is, en omgekeerd. Soms woon mense vir ’n deel van die jaar in hulle datsja en verhuur dit vir die res van die jaar aan ander stedelinge vir ’n vakansieblyplek.

Mense wat in datsjas woon, word in die omgangstaal datsjniki (дачники) genoem; die term verwys gewoonlik nie net na datsjabewoners nie, maar ook na ’n spesifieke leefstyl.[2] Dikwels word gesê die Russiese term het nie ’n presiese ekwivalent in ander tale nie.[3][4]

Datsjas kom algemeen in Rusland voor, asook in die meeste dele van die voormalige Sowjetunie en in sommige lande van die voormalige Oosblok. Volgens peilings in 1993 tot 1994 het sowat 25% van Russiese gesinne wat in groot stede woon datsjas.[5] Die meeste datsjas word in nedersettings naby groot stede aangetref. Hulle kom sedert die Sowjettydperk voor en bestaan uit talle klein erwe van gewoonlik sowat 600 m2. Hulle was aanvanklik bedoel as vakansieplekke en vir die kweek van groente en vrugte.[6] Datsjniki gebruik hulle datsjas vir hengel, jag en ander soorte ontspanning. Om voedsel in die tuin te kweek is steeds ’n gewilde deel van die datsjalewe.

Datsjas het ontstaan as klein plattelandse landgoede wat die tsaar as ’n geskenk gegee het en was gewild onder die Russiese hoë stande en middelklas. In die tyd van die Sowjetunie was baie datsjas in die besit van die regering en is hulle aan die elite van die Kommunistiese Party (KPSU) gegee. Die regering van die Russiese Federasie het steeds datsjas (wat ’n gosdatsja, kort vir "staatsdatsja", genoem word) vir gebruik deur die president en ander amptenare. Hulle was uiters gewild in die Sowjettyd, want mense het nie die geleentheid gehad om grond te koop en ’n huis te bou waar hulle wou nie, en ook omdat daar min ander geleenthede was om hulle tyd en geld te spandeer.[7]

Omdat daar streng regulasies was vir die soort datsjagebou en die grootte daarvan vir gewone burgers van die Sowjetunie, het eienskappe wat wel toegelaat is, soos solders en stoepe, algemeen voorgekom en was hulle dikwels buitengewoon groot. Regulasies is later verslap.

  1. 1,0 1,1 Brockhaus Enzyklopädie (in Duits). Vol. 26. Mannheim: F. A. Brockhaus. 1995.
  2. Lovell, Stephen (2003). Summerfolk: A History of the Dacha, 1710-2000. Cornell University Press. ISBN 0801440718.
  3. Mitchell, Ian (Mei 2010). "Summer Dachas: Country Life". Passport Magazine. Moskou.
  4. Newman, Cathy (Junie 2012). "Russian Summer". National Geographic. Washington, D.C.: National Geographic Society. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 November 2017. Besoek op 7 Oktober 2019.
  5. Struyk, Raymond J.; Angelici, Karen (1996). "The Russian Dacha phenomenon". Housing Studies. 11 (2): 233–250. doi:10.1080/02673039608720854.
  6. Vergelyk: Beumers, Birgit (2005). Pop Culture Russia!: Media, Arts, and Lifestyle. ABC-CLIO. p. 349. ISBN 1851094598.
  7. Beumers, Birgit (2005). Pop Culture Russia!: Media, Arts, and Lifestyle. ABC-CLIO. pp. 349–350. ISBN 1851094598.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search